Marinus is gebore in 'n klein dorpie in die Oos-Kaap genaamd Despatch. 'n Ekstrovert by uitstek, het Marinus al reeds van kleintyd af gewys dat die woord "skaam" nie in sy woordeskat is nie. As akademiese, sport en ook kulturele uitblinker het hy almal se lewe om hom ingekleur my sy aansteeklike persoonlikheid.
Musiek was nog altyd deel van sy lewe. As 'n tjokkertjie, het hy in als van 'n skool konsert tot 'n solo optrede by 'n braai naam gemaak. 'n Gebrek aan selfvertrou was daar nooit en elke geleentheid was 'n uitdaging wat hy met altwee hande aangegryp het.
Alhoewel Marinus sy hele skool loopbaan deel was van kore, konserte en ook solo optredes, was alles gedoen op klein skaal. Nooit was daar die gedagte dat hy dit verder moet vat as sy tuis dorp se verhoë nie.
Na skool studeer hy Meganiese Ingenieurswese aan die PE Technikon. Gedurende die tyd was sy fokus op sy studies en sy toekomstige werk. Alhoewel musiek, en spesifiek optredes ens, nie deel was van sy lewe gedurende die tyd nie, was die begeerte nog altyd daar om iets meer te doen met sy talent.
By 'n vriend se troue sien Brian Wilkenson, Operasie Bestuurder - The Boardwalk, hom raak toe hy hulle toesing by die seremonie. Hy word genooi vir 'n oudisie by die Boardwalk en slaag daarin om 'n permanente posisie op hul naweek vermaak kalender los te sing.
In die tyd soek hy na nog geleenthede en raak betrokke by 'n organisasie wat Afrikaanse musiek bevorder in die Oos-Kaap. Dis ook hier waar hy Sarel Botha, sy agent ontmoet en van daar af het dinge beginne gebeur. Hy skryf sy eerste liedjie en met die ondersteuning van Jacques Arendt, bekende radio persoonlikheid en stasiebestuurder van Bay FM 107.9, word sy liedjie Sê vir my gespeel op hul program, Die Burger Opskop.
Nog liedjies volg en hy palm al wat 'n toekenning is in die plaaslike musiek bedryf. Die hoogte punt was toe hy in 2008 die Bay FM Spiraal toekenning ontvang het vir die BESTE KUNSTENAAR en sy liedjie DIE HELE BOKSEMDAAIS aangewys is as die BESTE LIEDJIE. Hy het die liedjie geskryf saam met Fredi Nest en sy agent Sarel Botha.
Uit talle oorde het versoeke ingekom om sy CD uit te bring. Die druk was groot omdat soveel plaaslike sangers om hom CD's uitgebring het. Maar een ding van Marinus is dat hy hom nie in 'n situasie laat in praat sonder dat hy nie of reg is daar voor of die tyd reg is daarvoor nie!
As sanger en liedjieskrywer moes daar nog baie groei plaasvind voordat hy die stap sou neem. En in 2010 het alles in plek begin val. Die regte liedjies is gebore en dit het hom laat besef dat die tyd reg is!
Nou, met sy debuut album DIE HELE BOKSEMDAAIS, bring hy vir mense die stukkies van sy lewe. Hy streef daarna om elke dag voluit te lewe en alles te gee wat hy het in alles wat hy doen. En soos die titel sê, is die CD gevul met 'n kleuryke rangskikking van verskillende musiek. Elke liedjie iets nuut met 'n nuwe storie daarin gebêre vir die luisteraar om te ontdek.
Dis nou eers die begin...wie weet waar die pad my gaan lei! Maar dis wat so lekker is van die lewe. Daar lê 'n verrassing om elke draai!
Optredes saam met bekendes:
Marinus het al as gaskunstenaar opgetree saam met Suid Afrika se grootste stêrre. Om net 'n paar te noem:
Juanita du Plessis
Fredi Nest
Nicholis Louw
Robbie Wessels
Thys Die bosveldklong
Stef Kruger
Rudi & Corlea
Hennie Smith a.k.a Bertie van Egoli
Pieter Naude
en nog vele meer!
Kompetiesies:
Marinus het ook al welslae behaal in verskei kompetiesies en die hoogte punte is:
Beste sanger: Voalim 2005 & 2006
Beste liedjie: Voalim 2005 & 2006
Top 100 in die Afrikaanse Idols
Top 30 Superstêrre
Bay FM Spiraal wenner - Beste kunstenaar 2008
Bay FM Spiraal wenner - Beste liedjie 2008
Marinus se grootste wens is dat jy 'n plekkie sal maak vir sy musiek in jou hart.